Thursday, September 28, 2017

Oordenking 1 Oktober 2017

Tema:  Dié Here-nabye-leefwyse!
“Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Korintiërs 3: 18b)

Ek hoor hierdie week een van die beste beskrywings van hoe mense net so maklik hulle lewensdoel mis: “om arm te wees met baie geld”. Dit is so ‘n natuurlike ding om jou lewe op die verkeerde doelwitte te fokus, soos rykdom of prestasie of gewildheid of alle daagse probleme. Daar is soveel meer in die lewe vir ‘n Jesus-mens, wat die diepte element van ‘n intieme verhouding met Jesus ontdek.

Daar is ‘n drastiese en radikale verskil tussen die ou mens sonder Jesus in sy lewe en die nuwe mens wat totaal oorgegewe aan Jesus lewe: dood of lewe; gebind of vry; verlore of gered; donker of lig; selfgerig of selfloos; aardsgebonde of vol hemelse heerlikheid; blind of siende; doof of horend; ensovoorts; ensovoorts.

Nou verduidelik Paulus in 2 Korintiërs 3 hoe die oorgang van die ou mens na die nuwe mens moontlik is: slegs deur “die Here wat die Gees is”. Niemand van ons kan onsself verander nie. Niemand van ons kan ander verander nie. Let mooi op hoe dit in Die Boodskap omskrywe word: “Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.” (2 Korintiërs 3: 18b)

Die antwoord vir ‘n nuutgemaakte lewe, lê in “hoe meer ons die Here se grootheid raaksien”. En die enigste praktiese manier, hoe elkeen van ons meer van die Here se grootheid kan raaksien, is dat ons meer tyd met Hom sal spandeer. Hy hou baie daarvan dat ons Hom soek, na Hom verlang, spesifieke dinge doen om sy teenwoordigheid te soek, ingestel is om Hom in die alledaagse te belewe, in gesprek met Hom te bly. Ja, elkeen van ons kan vir die Here baie bly maak, deur net baie beter agter te kom hoe baie Hy van ons hou.

Die ongelooflike gevolg van hierdie Here-nabye-leefwyse, is dat Hy deur elkeen wat so leef, ander se lewens nuut maak en verander “soos Hy dit wil hê.”

Wil jy baie graag “verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê”?

Die Here self, wat Gees is, is reeds besig om jou te verander om sy heerlikheid te weerkaats!

Thursday, September 21, 2017

Oordenking 24 September 2017

Tema:  Hoe ernstig is jy met Jesus?
“Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Hebreërs 13: 15)

Die tyd om doekies om te draai is verby! Stop onmiddellik met die speletjie wat ons “godsdiens” noem! Reguit en ondubbelsinnig moet ons nou vir mekaar die suiwer waarheid van ‘n lewende verhouding met Jesus uitspel. Ja, jy sê, jy het jou pad saam met Jesus begin loop, anders sou jy nie nou hier lees nie. My vraag aan jou: hoe ernstig loop jy hierdie pad?

·         Watse impak het jou verhouding met Jesus in jou lewe?
·         Het Jesus in die afgelope 24 uur ‘n direkte invloed gehad in enige besluit wat jy geneem het?
·         Was daar in die afgelope paar dae enige tyd wat jy afgesonder het om alleen met Jesus te wees?
·         Het jy enige persoonlike getuienis, wat baie spesifiek met Jesus in jou lewe te doen het?
·         Was jy in die afgelope week iewers in gesprek met enige ander persoon, gered of ongered, oor Jesus?
·         Ervaar ander mense iets van Jesus in jou?
 
Voel jy dalk ongemaklik as ek hierdie vrae vra? Dan is dit tyd dat jy ernstig sal besin oor jou verhouding met Jesus. In ‘n opregte verhouding met Jesus, maak Hy van jou ‘n totaal nuwe mens.

 Die Hebreër-skrywer konfronteer ons met: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring ...”  Hierdie is alles behalwe net lippetaal of net pragtige lofliedere sing. Hierdie is ‘n lewe van totale prysgawe en oorgawe aan Jesus self.

Dit beteken: ek en jy ontdek die grootsheid, die finaliteit en die volledigheid van Jesus se bloedoffer aan die kruis vir my en jou. Hierdie bekeringsoomblik keer ons lewens totaal om wanneer die Heilige Gees hierdeur lewe in ons “inblaas”. Die gevolg is:

·         Volledige en permanente opoffering van alles wat vir jou in hierdie aardse lewe belangrik is; en
·         ‘n Definitiewe en totale oorgawe aan alles wat vir Jesus nou hier op aarde belangrik is.

Prakties word jou lewe ‘n offer aan Jesus: jy soek met alles in jou dat elke stukkie detail in jou lewe deur Jesus se prioriteite bepaal word; jy beleef dat sy Gees elke verhouding waarin jy moontlik in is, met ‘n spesiale gees van liefde vul; jou tyd, jou geld, jou besittings, jou planne, jou drome, ja, jou ALLES, is Syne en Syne alleen, en so bestuur jy dit elke dag vir die res van jou lewe hier.

Hoekom is hierdie totale oorgawe van jou lewe belangrik?
Slegs een rede: jy is ongelooflik kosbaar en spesiaal vir Jesus!

Thursday, September 14, 2017

Oordenking 17 September 2017

Tema:  Deur Gods genade alleen gestuur!
“En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.” (Efesiërs 3: 6)

Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees!
Deur die wilsbesluit van geloof alleen in die Reddende Een, word ons gered!
Deur Christus alleen is daar lewe!
Alleen deur die Woord wat lewe in en deur ons word, is daar vreugdevolle vryheid!
Tot eer van God alleen, leef ek deur Hom alleen elke dag!

Hierdie grondwaarhede van ons saligmakende geloof, vorm die kerninhoud van Jesus se opdrag waarmee Hy ons in die wêreld instuur – die Missio Dei, dit is “gestuur deur God” in Latyn. Wat beteken dit vir elkeen van ons?

Ek is sy gestuurde met die voorreg om sy opdragte vir my, uit te voer.
Ek is gesalf met sy Gees om sy lewensdoel met my hier op aarde te bereik.
Ek word vervul met sy volheid en dit is die belangrikste toerusting wat ek nodig het.

Elkeen van ons het baie spesifieke gawes en kwaliteite wat aan ons gegee is, sodat God sy koninkryksdoel met ons kan bereik. Dit is ons elkeen se voorreg en ons verantwoordelikheid en ons fantastiese geleentheid om ons hoër en dieper lewensdoel tydens ons aardse lewe ten volle te bereik. Ons besit ‘n gewaarborgde rykdom in Christus wat bedoel is om met ander te deel. Die wyse waarop ons dit met ander deel, verskil van persoon tot persoon. Die gehoorsame samewerking in die ontwikkeling van jou unieke gawes, is ‘n wesentlike deel van jou geloofsgroei.

‘n Paar voorbeelde, en let wel, daar is eintlik onbeperkte voorbeelde:
·         Om die goeie nuus oor Jesus aan ander te vertel;
·         Om genesing te bring vir die siek wêreld wat sonder God probeer regkom;
·         Om troos te gee in al die hartseer wat in ons midde is;
·         Om verligting te bring vir die armoede wat net erger word;
·         Om getrou te bid tot God wat altyd in beheer sal bly;
·         Om eerlik en met opregtheid elke dag te leef in elke omstandigheid;
·         Om in elke verhouding met Jesus se omgee-liefde ‘n verskil te maak.

Ek en jy is God se geliefde uitgesoekte uitverkorenes, wat die voorreg het om ander mense te begelei om deel te kry aan alles wat God belowe het!

Friday, September 8, 2017

Oordenking 10 September 2017

Tema:  Eer aan God alleen is ons lewensdoel
“... aan Hom kom die eer toe ... in ons verbondenheid met Christus Jesus ...” (Efesiërs 3: 21)

Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees!
Deur die wilsbesluit van geloof alleen in die Reddende Een, word ons gered!
Deur Christus alleen is daar lewe!
Alleen deur die Woord wat lewe in en deur ons word, is daar vreugdevolle vryheid!

Hierdie bogenoemde “alleen”- geloofswaarhede vorm die fondament vir ons elkeen se lewe om tot eer van God alleen, ons lewensdoel te bereik. Maar wat behels ‘n lewe tot eer van God prakties elke dag?

Die Latynse Soli Deo Gloria word onder ander gedefinieer as “the glory of God is man fully alive”. Daar is vir elkeen van ons ‘n dieper dimensie om ons lewensdoel op aarde tot eer van God te leef.

Oppervlakkig en moontlik tradisioneel, word die eer van God hoofsaaklik verstaan dat ons baie mooi lofliedere tot eer van God sing as ons in die kerk is. Of dat ons daarna strewe om steeds deur ‘n wettiese lewenswyse net hard genoeg te probeer om ‘n goeie mens tot eer van God te wees. Met hierdie onvergenoegde lewenswyse voel ek maklik dat daar niks goed in my is nie en dat ek steeds ‘n sondaar is. Hierdie dwaashede steel steeds ons vreugde in die lewe en sál ons steeds vasgebind laat voel. Dit is duidelik dat die mensdom eerder geneig is om God eindeloos te frustreer met hul eie selfsugtige agenda, as om Hom te vervul met blydskap.

MAAR na ons deur die genade van God, met ‘n definitiewe geloofsbesluit, Christus alleen die lewende Woord van ons lewe maak, beweeg ons dieper tot eer van God alleen!

Anders gesê, na ware bekering volg ‘n totaal ander storie: die inwonende Gees van Christus bevry my van alle mislukkings, bevry my van my verlede, maak alle wonde gesond en breek alle bindinge. Deur my nuutgemaakte verbintenis met Jesus alleen, maak Hy my volkome lewendig. Om tot eer van God te leef beteken om vreugde te vind in die lewe wat God gee, in wie ons is, en God vind vreugde in ons vreugde. Vreugde wat ons hartlik en met opregte betekenis verwoord in die lofliedere wat ons in én buite die kerk sing!

My lewensdoel vir God word ‘n werklikheid, want Hy neem volledig verantwoordelikheid dat my lewe tot sy eer alleen sal verloop. Ek kan net tot eer van God leef as ek beantwoord aan die doel waarvoor Hy my geskep het, as ek die mens word wat Hy met my bedoel het, hoe Hy wil hê ek sy beeld uitdra in my eie unieke vorm wat Hy my gegiet het. Nou leef ek glad nie meer vir myself nie, maar vir Hom alleen. Waarmee is Hy besig, wat is sy groot agenda, wat maak Hom moeg, wat gee Hom eindelose vreugde.  Nou is ek sy koningskind wat Hy met liefde versorg en bemagtig. Ek is sy gesalfde en sy gestuurde. Ek is volmaak in sy oë en vervul met sy volheid.

Prakties beteken dit om Hom te ontdek in elke oomblik van my dag, want die mens wat tot eer van God leef, is die mens deur wie God leef.

Thursday, August 24, 2017

Oordenking 27 Augustus 2017

Tema:  Lewe deur Christus alleen
“Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.” (Galasiërs 2: 20)

Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees. Maar ons word alleen gered deur die wilsbesluit van geloof in die Reddende Een! By God alleen is ware rus.

Wie is die Reddende Een? Jesus Christus, die Seun van God – Hy en Hy alleen is die Reddende Een! Noem ons Hom “Jesus” of noem ons Hom “Christus”, dit is teoreties, solank dit in werklikheid slegs oor Hom en Hom alleen gaan.

Vir ons het Jesus twee ononderhandelbare geloofsmomente: wie Hy in die Bybel is en wie Hy vandag in jou en my lewe is.

·         Wie Jesus in die Bybel is, is baie-baie-baie-baie-baie belangrik! Die historiese Jesus soos wat Hy Homself in die Woord bekend stel, het uiteindelik die gevolg dat Hy self die Woord word in ons lewe. Die verlossingspad wat Hy deur vernedering en verhoging tydens sy aardse lewe geloop het, is die kern van ons gereformeerde geloofsleer. Sy sterwe aan die kruis in elkeen wat in Hom glo, se plek, maak elke begenadigde vir altyd vry van sonde en oordeel. Sy opstanding uit die dood, gee vir elke genadebewerker die ewige lewe.

Hy is die Enigste Een wat ooit hierdie vryspraak en lewe kon bewerk, want Hy is volledig God én mens. Geen ander geloof het ‘n soortgelyke God of ooreenstemmende verlossingsleer nie. Daar is slegs EEN Jesus Christus!

·         Wie Jesus vandag in jou lewe is, is baie-baie-baie-baie-baie belangrik! Met ons omgang met die heilsfeite oor Christus in die Bybel, kom skryf Hy simbolies op ons harte wie Hy deur sy Gees vandag in elkeen van ons is. In ons geloofsverhouding met Hom, word die lewe wie Hy in ons is deur die Gees, al hoe meer die Lewe wie Hy nog altyd was. Elke genade-ontvangende-gelowige in Christus, word Jesus-mens om Hom in sy koninkryk te verteenwoordig.

Op hierdie wyse is daar vir elkeen van ons die geleentheid om daagliks te ontdek wie Hy in ons is. Jesus wil jou Vriend, jou Geesgenoot, jou Medewerker, jou ... , jou ... , jou ... wees– hier is oneindig moontlikhede wie Hy in en deur jou wil wees. Op hierdie wyse is Hy voortdurend besig om jou op ‘n baie besondere manier deel te maak van sy koninkryk. Hiervoor rus Hy jou toe deur sy Gees. Hierdeur bemagtig Hy jou vir die uitsonderlike en baie spesiale bestaansdoel waarvoor Hy jou gekies het.

Deur Christus alleen is daar LEWE!

Thursday, August 17, 2017

Oordenking 20 Augustus 2017

Tema:  Ontvang rus deur GELOOF alleen
“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11: 1)

Ons is besig met die kernwaarhede van die verlossing van die mens, soos dit al vir 500 jaar in die Protestantse Geloofsleer bely word. Alles begin en eindig by die groot Skenker: die enigste lewende Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Hy skenk vrylik en oorvloedig groot en ryke genade. Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees – hierdie is ‘n voortgaande persoonlike wilsbesluit!

Daar word geskryf dat genade is God wat oophand gee alles wat Hy reeds gedoen het, en geloof is ons wat dit oophand ontvang. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.” (Efesiërs 2: 8). Hierdie Skrifwaarheid en ander dele uit die Bybel, vorm die vertrekpunt van die beskrywing in die Heidelbergse Kategismus (vraag en antwoord 21) dat geloof ‘n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue is.

Die geloof wat ons uit genade as geskenk van God ontvang, is ‘n saak van die kop en die hart. Met ons kop het ons die geleentheid om God steeds beter te leer ken, en met die hart groei ons daarin om God al hoe meer en beter te vertrou. Hierdie beter ken en meer vertrou, is slegs moontlik vanuit daardie steeds groeiende en intieme verhouding met God self. En juis omdat elkeen sy eie kop volg en na sy eie hart moet luister, is groeiende selfkennis en gebalanseerde selfliefde, volledig deel van hierdie intieme verhouding met God.

Ons kan nie vir God sien, aan Hom vat of Hom bewys nie – tog word ons alleen gered deur te glo in hierdie Onsienlike en Onbegryplike! (sien Hebreërs 11:1 hierbo)

Geloofsvertroue en geloofstwyfel is baie normaal in elke Jesus-mens se verhouding met God. My twyfel is alles behalwe ‘n teken dat ek nie glo nie. My twyfel lei eerder tot vrae oor God in my, dit lei tot ‘n dieper en wyer soeke na God in my, en dit lei tot geloofskennis en geloofsvertroue van God in my. Hierdie is ‘n voortgaande, geheimsinnige en unieke geloofspad wat elke Jesus-mens elke dag van lewe mee besig is.

Net soos genade alleen ontvang word deur ‘n persoonlike wilsbesluit, net so word ons alleen gered deur die wilsbesluit van geloof in die Reddende God alleen!

Prakties: wat laat geloof groei? Meer tyd met God alleen! Daar is ware rus alleen.

Thursday, August 10, 2017

Oordenking 13 Augustus 2017

Tema:  GENADE alleen is om op te hou probeer
“... sy groot genade wat Hy ... vrylik aan ons geskenk het ... die ryke genade van God wat Hy ... so oorvloedig aan ons geskenk het ...” (frases uit Efesiërs 1: 6 tot 8)

In die volgende ses weke gaan ons fokus op die kernwaarhede van die gereformeerde kerkleer, wat al vir 500 jaar die toets van die tyd deurstaan het. Gebou op die suiwer interpretasie van God se Woord, vorm hierdie waarhede die boustene van Christus se kerk op aarde en die vaste belydenis van die Christelike geloof. Hierdie waarhede bevat die kern van die verlossing van die mensdom.

Alles begin en eindig by die groot Skenker: die enigste lewende Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Hy skenk vrylik en oorvloedig groot en ryke genade. Die omvang en grootsheid van hierdie skenking, word vasgevang in die woord “genade”. Elkeen van ons kan ons eie beskrywing van “genade” gee, en dit sal korrek wees. Geen definisie of omskrywing van die woord “genade”, kan volledig alles bevat wat dit beteken nie. Soos wat die Skenker baie meer is as enige woorde wat Hom kan beskrywe, is “genade” wat Hy skenk groot en ryk.

Een moontlike benadering tot die genade wat God skenk, is dat Hy nooit sal moed opgee met ons nie. Sy eie Seun, Jesus, het die groot hindernis van sonde en die mag van die bose, vir altyd weggeneem. Op grond hiervan sal Hy altyd bly vergewe en vergeet van alles wat verkeerd is in die mens se lewe. Op grond van wie Jesus self is deur die Gees in ons, is Hy bereid om elke dag nuut met ons te begin. Sy genade beteken dat Hy elke dag ‘n nuwe begin met elkeen van ons wil maak. Sy genade het dus te doen met sy onvoorwaardelike en oneindige liefde vir elkeen van ons.

Hiermee maak God van elkeen van ons sy kanaal en instrument van genade in ‘n wêreld wat sonder Hom probeer regkom. Met sy Gees kragtig teenwoordig in elkeen van ons wat glo in Hom, kyk ons met sy genade-oë na mekaar en na die stukkende wêreld waarin ons is. Met ons hande en voete dra ons sy genade vrylik en oorvloedig verder as onsself. Nie-veroordelend, nie-krities en nie-hatig, leef ons genade op genade in elke moontlike verhouding en situasie.

Met God se genade in ons, hou ons op om te probeer om God en mekaar se guns te wen, maar eerder loop ons oor van hierdie wonder van Gods genade. Eerder het elkeen van ons as begenadigdes, ‘n doelbewuste keuse om met volle oorgawe genade te leef! So word genade ‘n werkwoord, waar God deur ons meer van Homself demonstreer in ons daaglikse lewe. Deur genade alleen, word ons wie God wil hê ons vir Hom moet wees – hierdie is ‘n voortgaande persoonlike wilsbesluit!